top of page
Eugene Botes

Architecture Hermanus | Potte


Eugene Botes Architect blog

" Ek het nie 'n pot op my erf nie."

Ons almal het ʼn pot iewers op ons erf.

As ek dink waar my pot staan, dan staan dit in die vertoonkas van boukunde by die universiteit. Ek skat dit was in my derde jaar, groepwerk en ons moes ‘n artefak indien vir geskiedenis. Dit was dalk meer ‘n kruik, ‘n ou een met griekse hiërogliewe op en ons het vooraand die pot begin maak van pottebakker klei, dit moes akkuraat wees en volgens een groepmaat, terapeuties boonop ook om die klei tussen jou vingers te voel. Ons blaas hom droog met ʼn haardroër deur die nag in skofte.

Ons mis ons deadline en kry nul vir die vak, die pot wou nie droog nie en het erg vervorm in die Nissan bakkie oppad na die dosent se kantoor. ‘n Paar weke later word hy tog vertoon in die kas van die ingangsportaal. Dit was dan nul?



Nadat ek so paar jaar terug deur die weskus se strate ry dink ek weer ... Dit was dan nul en hier staan hulle – orals.

Groottes, kleintjies, vettes en dunnes - party het water in en ander staan skeef, party het knoppe en ander strepe - ander het plante in en uit party loop ‘n katstert soos ‘n fontein, party staan alleen en ander is in ‘n rangskikking vasgevang - party staan baie regop en almal staan hoër as die ander... En dan is daar die vreemdes, die wat my kop nie kan vashou om dit te bekyk nie... Dit is daai met die bamboes in. Drie van hulle en dit is altyd drie.

En daar is altyd een aan die ander kant ook - soos ‘n poort.


Partykeer staan hulle op die dak. Dalk was die bakkie te klein om die groot regop een te koop, toe moes nommer twee deug maar hy kom op die dak. Ek ry bietjie oor die sypaadjie omdat ek bang is hy kantel en val op die kar.

En skielik kom die beelde – of altans potte in my gedagtes op - asof elkeen wat ek al ooit gesien het deur my gedagtes flits, aanmekaar en sonder einde. My onthou kom uit die klein fabriekdorpie waar ek groot geword het, dit hardloop deur Pretoria en Johannesburg en eindig in die kleinste afgeleë idilliese weskus vakansie dorpies en hulle is orals!

En almal het die potte.


Partykeer staan daar net ‘n pot. Lewensgroot, hy bekruip jou elke dag en sonder uitsondering vang die hoek van jou oog hom in die skemerte net voordat hy jou oorrompel. Elke dag voel jy so bietjie skaam hy het jou weer uitgevang.

Soos ek met my kop skuins staan en kyk vir een wat amper soos toffie lyk wonder ek wat kan dit wees.

Is dit simbolies? My eerste gedagte is dit moet simbolies wees van die weduwee se kruik. Dit moet godsdienstig wees, maar by die kerkbasaars verkoop hulle nie die potte nie. Ek het al gehoor van feng shui. Dit moet seker dit wees, dit vang die energie en bêre die geld in die kruike. Dit moet wees want die goed is duur.

Jy kan sommer sien hulle is duur as jy verby so trop van hulle ry langs die pad. Staan altyd so in gelid naby die pale en die plante. Ek sien weer een en hy lê so omgeval en die water loop uit. Daardie een se feng shui loop in die see uit dink ek - kan nie dit wees nie.

Dalk is dit ‘n teken van iets soos die broederbonders of die free masons – ek dink dadelik aan die meksikaan en die vliënde ganse. ‘n Geheime organisasie in die buurte? Moontlik ‘n braaiklub...


Dit lyk of die pot wil begin drup in die son en ek kyk oorkant die pad en my oog vang ‘n bamboes. Eintlik andersom, die bamboes vang my oog! Dit is nogal kunstig gerangskik.

My ouma het ook by die VLV blomme rangskik, sy het altyd gesê – rangskik in dries ... of vywe. Ek het een keer twee potte gesien met vier stokke in elk, maar dit was in ‘n voorstedelike buurt in die ooste van Pretoria. Dit tel nie – hulle sou nie kon weet nie.


Een ding is seker – hoe hoër, hoe groter, hoe beter. Dit moet status wees.

Ek ry om die hoek en daar staan hulle weer. Ek kyk in die blou lug op, seker twee verdiepings hoog. Dit spreek status! Dit vertoon mag en aansien.

Ek kyk weer af. My oë soek oor die plat geplaveide erf na die kasteel. Ek moet nog bietjie affer kyk, daar is hy. Dit lyk of hulle al twee keer by die garage aangebou het om die plekkie te omskep in ‘kannieklanie’. Ek sien die wielspore waar hulle Desember maand die karavaan op die paving trek.

Ek laat vaar my status teorie.


Ek dink weer aan die pot in boukunde. Ek dink aan die spanmaats in die groep, ek dink aan ons groepie in die nag in Sunnyside en ons drink bier en lag en luister musiek. Ek dink aan die hiërogliewe op die pot van karakters wat om 'n pot dans en Milan Kundera of was dit Umberto Eco, en daar tref dit my - ons het behoort.


Ek het nie meer ʼn pot op my erf nie.

Comentarios


bottom of page