top of page

Erediens




Dit was ‘n moeilike week. Die gewig van ons land lê swaar op ons skouers en ons soek verligting, ons soek uitkoms. Net daardie een en n half uur in die heiligdom sou genoeg wees, maar ons kry darem ons voedsel daar om ons deur te dra deur die week. As ons hier uitstap gaan ons nog die hele week praat oor die gewyde tyd hier, oor hoe ons uitenindelik beheer geneem het, al verloor ons dit tog so baie.

Ons sal in die aande bepsrekings luister en net na die nuus in die oggend sal ons weer ons stukkie brood kry om ons deur die dag te dra-al is dit net een klein kort boodskappie van een van die dissipels. Ons sal stil wees in die kar op pad terug huis toe. Ons sal nog die hele volgende dag en die hele week hierna nog bepeins, bespreek in elke kosbare oop tydjie in ons week. By die kantoor sal ons vertroulinge nader by die watermasjien, ons sal, voor die vergadering begin, afkyk na die tafel en stil word – selfs party dae bietjie argumenteer oor wat die naweek daar in die heiligdom afgespeel het.


Ons stop ver van die gebou van aanbidding af, seker drie blokke ver. Ons het darem vroeg gekom, anders sou dit verder gewees het. Dou voordag toe ons opgestaan het toe lê die ryp nog swaar. Ons ry stywerig deur die toe rookmis stad toe. Soos die son opkom pluk pluk die bakkie se wiele los van die lang stuk teerpad. Die bakkie is vol. En stil...net voor links snork ‘n oom wat weer aan die slaap geraak het. Die tannie het met hom geraas met die inklimslag, maar eerder nou as in die diens sit en slaap.


Soos ek uit klim toring die heilige struktuur al hoër en hoër die hemel in. ‘n Mens kan nie help om oopmond in verwondering te staan en die asemrowende struktuur te bewonder nie. My plattelandse kop kannie ophou kyk na die argitektoniese skepping nie...dit vul jou met ontsag. Dit laat jou klein en nederig voel. As jy jou oë heen en weer laat loop oor diè menslike prestasie van argitektuur en ingenieurswese spin ‘n web oor die strukture soos jou oë links na regs en bo na onder, skuins in binne toe en buitentoe oor die gebou weef tot jy daar staan met ‘n kokon in jou hand...jy kan nie wag om stil te raak binne die kerk sodat jou hart na die hemele kan juig nie!


Dit is soveel groter as die tuisdorp sin. Maar vandag is ‘n groot diens. Die oom word wakker en toe hy by sy sinne kom toe roep hy speels die tou leier om die osse los te maak en te laat uitspan...hy lag snaaks vir sy eie grap en verduidelik hoe die gedoente hom laat dink aan die ou dae as dit nagmaal was in die dorp, dan het al die boere met hulle ossewaens kom laer trek in die plein om die kerk. Almal het saamgekom, en dan kamp hulle sommer daar. Na die nagmaal word daar gedoop-party, wat nou eers ossewa kon bekostig doop sommer agt , nege kinders op ‘n slag. Dan word daar geëet, jams uitgeruil en koeksisters gevleg.


Ons begin aflaai en onself ligter maak ter voorbereiding van die seremonie...die diens. Ons gaan sit in klein groepies rondom die heiligdom. Daar gesels ons oor verlede week se diens. Ons bespreek hoe ons in beheer moet wees. Ons deel al die boodskappies wat ons so deur die week versamel het, al die preke laataand met leraars wat in hulle swart pakke op die kassie sit en uitpluis hoe dit alles werk, wat dit alles beteken en hoe ons onself uit die diep gat van ewige verdriet kan red...hoe ons net weer moet beheer neem. Ons het alle beheer verloor.

‘n Man spring skielik op in sy groepie en skreeu uit volle bors oor hoe groot sy god is. Sy groepie maats spring soos nog een man op en skreeu saam. Die krete verander sponaan in ‘n loflied .

‘n Mens se hart klop vinnig. Die gees is tasbaar as al die groepies bymekaar kom en almal in een stem sing soos hulle na die tempel se ingang beweeg. Net soos ons kerk by die huis staan die diakens en geld opneem by die ingang. Ons beweeg nou stadig, die gange raak nouer en nouer en die massa aanbidders rondom ons se sang dreun deur die poorte. Bo ons koppe voel ek hoe vibreer die beton massa. Ons raak ansgtig en klou die stuk biltong (wat die oom vir ons gegee vir die diens, hy maak nog altyd self sy eie springbok biltong) styf in ons nat sweet hande vas.

Die jubelende massa druk ons deur die poort en as die gesange en die prysliedere van die aanbidders in die binneruimte bots, dan slee dit jou meer in ‘n ploffende lofprysing en jy weet, hier word vandag een god aanbid!


Die binnekant van die huis van aanbidding verdwerg die buite aansig, die kollosale ruimte sluk die skare aanbidders in en verf hulle spikkels soos pixels van ‘n groot flat screen tv. Elkeen nou net ‘n kolletjie van ‘n baie groter beeld.

Die volgende uur en ‘n half is ‘n onuitspreeklike geestesvervoering. Gewy en emosineel met oomblikke waarin die geverfde spikkels soos een man opstaan en hulle arms in die lug opgooi. Arms word om mekaar se skouers gegooi en die skare wieg heen en weer wanneer nog lofliedere gesing word – sommige stadig en ander uit volle bors.


Ander oomblikke is stil, afwagtend en heilig.


Soos ons uitloop vang my oog al die altare. Vleis offers word gebrand en oral staan groepies en wy drank offers. Party skree steeds hul god se naam uit, ander sit inmekaar en trek hulle hare en huil.

Voor ons uitgaan deur die poort na buite, draai ek om en op die skerm dans die tempel prostitute, half naak en voor hulle staan die leraars in hulle swart pakke...tussen hulle staan ‘n man, sop nat gesweet met ‘n stuk plastiek in sy mond. Hy sukkel eers om te praat maar toe hy eers die plastiek uit het toe sê hy die woorde ......ons het uitgedraf vandag om beheer te kry oor die bal, toe dink ons, ons het beheer, toe verloor ons beheer, ons weet nou ons moet fokus om beheer te kry oor die bal, die manne is positief...dan klop die een in die swart pak, ‘n man wat eens beheer gehad het en toe dit ook tog verloor het, hom op die skouer... nog iemand val weg met nog ‘n lied en ons kan nie verder hoor nie...


Ons kom laat by die huis en Sondagoggend mis ons die Erediens.

Recent Posts

See All
bottom of page