COVID-19, self-isolasie peule en toiletpapier.



In reaksie op COVID-19 kan ons soveel vreemde self-isolasie peule ontwerp soos ons wil en op Instagram post maar die stoel langs die intensiewe sorg bed bly leeg.


Ek plaas nou net twee artikels oor hoe argitekte reageer op die COVID – 19 virus. Ek weet dit is al bietjie laat daarvoor aangesien argitekte gewoonlik die self aangestelde ridders op die wit perde is om die wêreld te red met staal en beton. (En ons kan – mits jy genoeg beton gebruik!)


Ek moet bieg ek het nog nie die artikels gelees nie, al glo ek hulle het die beste bedoelings. Ek het dit gedeel want ek dink dit is die regte ding om te doen. Maar toe vang my oog die intensiewe sorg kamer met die stoel langsaan die bed. Die leë stoel langs die bed.


Die COVID – 19 lyk dit vir my kom in fases. (En hy het baie fases voor hy vatplek kry aan jou lyf.)

Fase een is toiletpapier. En reinigers. Ek dink terug aan die dag voor lockdown : Ek staan in die lang tou en my oog vang die tannie wat na my trollie loer. Ek kyk weg anderkant toe en die man daar ruk ook sy oë van my trollie af en maak of hy nou na die Bar Ones kyk voor hom. Ek kyk skaam af na my trollie. Twee pakke toilet papier, twee housers wasgoedseep, twee bottels sunlight, twee houers amoniak skoonmaak produk en nog en nog bottels en een bottel dettol, daar was net een oor– die renoster in my trollie. Dit lyk soos Noag se ark ...van reinigings produkte en skoonmaak middels, almal in pare.


Die volgende fase is ingelyf met maskers en skerms en die regering wat jou wil isoleer van die wereld, van jou lewensonderhoud, jou menswees, jou wêreldse vertroostinge, jou plesiertjies, jou vryheid, jou gesondheid en jou gesonde verstand, jou familie, jou denke en jou wil...en ons staan alleen in ons huise voor die spieel en ons is skoon. Alles moes skoon. Maar in die aande lê ons en kyk vir die plafon en ons weet. Ons weet ons is vuil binne-in ons harte...Ons is vuil en sondig en nie die wêreld se toiletpapier en sanitizers kan ons skoon was nie.


Die regering hou aan isloleer. Mense met verkoues word in haglike kwarentyn konsentrasie kampe gesmyt. Honger skares mense wat verwyder is van hulle kos word geskop en met sambokke geslaan. Party word doodgeslaan...want hulle beskerm jou teen die virus wat jou moontlik kan siek maak. Mense staan in lang verkiesings toue vir ‘n stukkie brood maar word by die eindpunt weggewys as hulle die verkeerde kruisie trek of die verkeerde hare het. Die gans wat die goue eiers lê word weggeskop soos ‘n straathond – die spene leeggesuig. Die regering self-isoleer hom van die mense. En die stoel is leeg langs die bed.


En behoed jou om siek te word van die virus. Sou daar iets van jou menswees oor wees sal die owerhede jou ook daarvan stroop. Ingevoerde polisiestaatslede sal jou uit jou huis sleep en jou voor ‘n dokter met ‘n kubaanse sigaar laat veskyn.


En dan onthou ek die foto van die intensiewe sorg kamer met die leë stoel langs my. Die stoel wat die argitek beplan het om langs my bed te staan. Die stoel waarin ‘n vader of moeder moes sit, dalk ‘n beste lewenslange vriend, ‘n liefdevolle huweliksmaat, ‘n seun of dogter, of almal saam selfs op die lenings, dalk ‘n dominee of ‘n ouma of oupa. Iemand om my hand vas te hou.


En nou is daardie stoel leeg.


Maar die stoele langs ons beddens is nie leeg nie en ons is nie alleen nie. Daar is Iemand in daardie stoel Wie ons hande vashou en ons nie sal alleen laat nie, al het die wêreld en die regering alles probeer om daardie stoel leeg te hou.

En dit is Jesus Christus Wie in die stoel sit langs ons beddens en oor ons wag hou. Al lyk die stoel leeg. En dit is Jesus Christus Wie ons sal skoon was, witter as sneeu, as Hom as ons Verlosser aanneem en Hom aanbid. Geen hoeveelheid handreinigers kan ons skoonwas of geen dokter kan ons genees van ons vuilheid nie. Dit is Jesus Christus Wie ons ‘n nuwe lewe sal gee as ons sterf in onsself en doodgaan in die sonde.

Dit is Jesus Christus Wie op die Troon sit, dit is Hy Wie die Kroon dra.


Ons hoef nie ons hospitale, treine, kantoorgeboue, winkelsentrums, lughawens, winkels, pleine, parke en skole of enige ander gebou te verander om by COVID-19 in te val nie. Ons het nie nodig om isloasie peule te ontwerp en dit oor ons stadspleine te strooi om in weg te kruip nie.


Ons moet die binnekamers van ons harte herontwerp en oopmaak vir Jesus, dan sal ons Hom raak sien in die stoel langs ons bed.



© blackPEPPERcollective 

www.blackpeppercafe.blogspot.com

  • Facebook Clean